Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 4:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Ek stuur my goeie vriend Tigikus terug na julle toe. Hy sal vir julle alles van my kom vertel. Ek hou regtig baie van hom. Hy werk hard vir die Here. ’n Mens kan op hom staatmaak. Ek weet, want ek werk saam met hom.

8. Hy sal ook vir julle sê hoe dit hier gaan. Hy sal julle ook sommer moed kan inpraat.

9. Ek het Onesimus gevra om saam met Tigikus Kolosse toe te gaan. Hy is mos een van julle. Hy is net so betroubaar soos Tigikus en ons is ook baie erg oor hom. Hy is ’n lojale broer vir ons. Wat Tigikus vergeet om vir julle van ons te vertel, sal Onesimus sekerlik byvoeg.

10. Aristargos stuur vir julle groete. Hy is saam met my hier in die tronk. Markus, Barnabas se neef, stuur ook groete. Ontvang hom asseblief goed wanneer hy daar aankom.

11. Julle weet mos wat om te doen. Jesus, wie se ander naam Justus is, stuur ook groete. Hierdie mans is die enigste Jode wat enduit saam met my bly werk het om God Koning in mense se lewe te maak. Glo my, hulle het al baie vir my beteken.

12. En dan is daar natuurlik Epafras wat julle so goed ken. Hy het my gevra om julle spesiaal namens hom te groet. Hy gee al sy tyd en energie vir Christus Jesus. As ons maar hoor, bid hy baie ernstig vir julle, veral vir julle geestelike volwassenheid. Hy vra God om julle te help om nie ’n duim van die koers af te wyk nie. Hy bid dat julle lewe al hoe meer sal word soos God dit wil hê.

13. Ek kan julle verseker, hy bid ernstig vir julle in Kolosse, asook vir die gelowiges in Laodisea en Hiërapolis.

14. Geliefde dokter Lukas en Demas stuur ook groete.

15. Sê asseblief namens my groete vir die Christene in Laodisea. Moet ook nie vergeet van Nimfa en die gemeente wat in haar huis kerk hou nie.

16. Lees asseblief eers hierdie brief daar in julle gemeente. Stuur dit daarna na Laodisea toe vir hulle om te lees. Ek het ook ’n brief vir die gemeente in Laodisea gestuur en gevra dat hulle dit weer vir julle stuur.

17. En, o ja, sê asseblief vir Argippus dat hy moet volhou met die taak wat die Here vir hom gegee het. Hy moet sorg dat hy dit klaarmaak.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 4