Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 3:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees.

15. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie.

16. Jesus se boodskap moet in julle lewe wees wat ’n bouplan vir ’n bouer is. Dit moet die plan wees vir alles wat julle doen. Daarom moet julle nie tevrede wees voordat julle alles weet wat Jesus vir julle wil sê nie. Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie.

17. Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

18. Vroue, erken die gesag wat mans in die gesin dra. Die Here verwag dit.

19. Mans, wees lojaal en liefdevol teenoor vroue. Moenie geïrriteerd raak met hulle nie.

20. Kinders, luister na wat julle ouers sê. Daarvan hou die Here.

21. Pa’s, moenie te veel druk op julle kinders sit nie. Netnou verloor hulle moed omdat hulle voel dat julle nooit tevrede is nie.

22. Nou kom ek by julle wat vir base werk. Doen wat julle aardse base van julle vra. Moenie skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie. Wees eerlik en werk hard omdat die Here altyd vir julle kyk.

23. Julle wil tog die Here tevrede stel en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die oorgawe waarmee julle julle werk doen.

24. Die Here sal vir julle gee wat julle verdien; daarvan kan julle seker wees. Julle sal by Hom in sy nuwe wêreld gaan bly en daar alles geniet wat Hy vir julle sal gee. Want die eintlike Baas vir wie julle werk, is mos Christus. En hierdie Baas trek niemand voor nie.

25. As iemand dus nie doen wat God wil hê nie, sal hy maar die straf daarvoor moet dra.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 3