Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:6-13 Die Boodskap (DB)

6. Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop Hy sou sy mond verbypraat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep. Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle. Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets in die grond geskryf.

7. Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: “Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ’n klip optel en haar daarmee gooi.”

8. Weer het Jesus vooroor gebuig en iets in die grond geskryf.

9. Daar staan die Joodse geleerdes toe met ’n mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos.

10. Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: “En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om ’n klip op jou te gooi nie?”

11. “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord.Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ’n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ’n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.”

12. Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.”

13. Die Fariseërs val Hom toe dadelik aan: “Jy praat darem baie oor jouself, nè? Dit is net ‘ek, ek’ die hele tyd. Iewers moet ’n skroef los wees! Al hierdie dinge wat jy sê, kan tog nie waar wees nie, want niemand anders sê dit nie, net jy.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 8