Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:36-44 Die Boodskap (DB)

36. Ja-nee, Jesus se woorde dat Hy na ’n plek toe gaan waar hulle Hom nie sal kan uitsnuffel nie, het die Jode aan die raai gehou.

37. Die laaste dag van die fees was die hoogtepunt en almal was daar. Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê.

38. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.”

39. (Met hierdie beeld het Jesus die koms van die Heilige Gees in gedagte gehad. Elke Christen sal die Gees ontvang en dan sal hierdie dinge van hom waar word. Maar die Gees was toe nog nie aan die gelowiges gegee nie. Dit sou eers gebeur nadat Jesus teruggegaan het na sy Vader in die hemel toe.)

40. Van die mense wat dit gehoor het, was nou meer as ooit oortuig: “Sowaar, Hy moet die belangrike Boodskapper van God wees op wie ons gewag het!”

41. “Julle mag so dink, maar ons dink Hy is die Redder self,” het ander hulle opinie gelug. Daar was ook ’n paar beterweters: “Ja, maar Hy kom uit Galilea. Ons almal weet tog dat die Redder nie uit Galilea sal kom nie.

42. Die Bybel self sê vir ons dat die Redder ’n agteragterkleinseun van Dawid sal wees. Dawid kom mos uit Betlehem en dit is baie ver van Galilea af! Hoe verklaar julle dit?”

43. So het die mense met mekaar gestaan en stry.

44. Daar was ook weer sterk sprake dat party Jesus in die tronk wou gooi, maar niemand het die moed gehad om dit regtig te doen nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 7