Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:46-53 Die Boodskap (DB)

46. Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader.

47. Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is.

48. Want Ek is die brood wat lewe gee.

49. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood.

50. Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil.

51. Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.”

52. Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?”

53. Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6