Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:15-31 Die Boodskap (DB)

15. Die mense wou Jesus toe met alle geweld koning maak. Jesus het dit egter besef en toe verder teen die berg uitgeklim, net Hy alleen.

16. Teen die aand het sy dissipels weer teruggestap see toe. Dit was al donker en steeds was daar geen teken van Jesus nie. Hulle het toe maar

17. in ’n skuit geklim en na Kapernaum toe begin vaar. Kapernaum was aan die oorkant van die meer. Daar kom toe ’n sterk wind op.

18. Die water het baie onstuimig geword. Die dissipels het bly roei.

19. Na so vyf of ses kilometer sien hulle skielik vir Jesus. Hy het sommer daar naby die skuit op die water geloop. Hulle het hulle wit geskrik.

20. Jesus kalmeer hulle toe: “Toemaar, dit is net Ek. Moenie bang wees nie.”

21. Hulle help Hom toe in die skuit in. Dit was nie ver van die plek af waar hulle wou vasmeer nie.

22. Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg.

23. Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom.

24. Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus.

25. Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?”

26. Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete!

27. Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.”

28. Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?”

29. Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.”

30. “Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê.

31. Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’”

Lees volledige hoofstuk Johannes 6