Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 19:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Pilatus sê toe vir sy soldate om Jesus met die sweep met stukkies yster in oor sy rug te slaan.

2. Die soldate het nie op hulle laat wag nie. Hulle het sommer ook takkies gevat wat skerp dorings aan gehad het, ’n kroon daarmee gevleg en dit op sy kop gedruk. Hulle het ook ’n pers mantel oor Hom gegooi sodat Hy kamma soos ’n koning aangetrek was. Hulle het Hom begin spot.

3. Hulle het kastig eerbiedig nader na Hom toe gekom en Hom dan ewe ernstig soos ’n koning gegroet. En dan het hulle Hom weer geklap.

4. Intussen het Pilatus weer buite met die Jode gaan gesels. “Ek gaan Jesus buitetoe bring, hier na julle toe. Ek wil hê julle moet besef dat Jesus myns insiens onskuldig is.”

5. Juis toe kom Jesus uitgestap. Hy het nog die kroon van dorings opgehad en die pers mantel gedra. Pilatus kondig toe aan: “Kyk, hier is die man.”

6. “Kruisig hom!” gil die leiers van die priesters en die polisie toe hulle Hom sien.“Nou toe, vat julle hom en kruisig hom. Ek gaan dit nie doen nie, want ek dink nie hy is skuldig nie,” was Pilatus se reaksie.

7. Die Jode reageer toe: “Volgens ons wet verdien hy nie om een oomblik langer te leef nie. Hy moet dood, want hy het mos kom maak of hy die Seun van God is.”

8. Dit het Pilatus nogal laat skrik.

9. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly.

10. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 19