Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 17:21-25 Die Boodskap (DB)

21. Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het.

22. Ek sal vir hierdie volgelinge van My dieselfde status gee as wat U vir My gegee het. Dit sal hulle in ’n span saamsnoer net soos Ons in ’n span saamwerk. My verhouding met hulle sal My op ’n baie hegte manier deel maak van die eenheid wat onder hulle bestaan.

23. Ek sal so lojaal teenoor hulle wees as wat U teenoor My is. Dit alles beteken dat hulle foutloos, ja, volmaak, in hierdie eenheid saamgesnoer sal wees. Gevolglik sal die mense besef dat U My gestuur het. Hulle sal sien dat U my volgelinge net so liefhet soos U My liefhet.

24. “Vader, Ek wil so graag my volgelinge hier by My hê. Hulle moet wees waar Ek is. U het mos gesê dat Ek na hulle moet kyk. Laat hulle tog sien watter wonderlike en belangrike status U My gegee het. U het dit gedoen omdat U My liefgehad het nog voordat die aarde gemaak is.

25. Vader, U doen wat reg en regverdig is. Die ongelowige mense weet nie wie U is nie en steur hulle ook nie aan U nie. Dit is so anders as Ek wat U goed ken. My volgelinge weet dat U My na hulle toe gestuur het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 17