Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:2-16 Die Boodskap (DB)

2. Praat van gevaarlike tye - die Jode sal julle uit hulle byeenkomste jaag en julle verbied om weer daar te kom. En dit is nie al nie! In ’n stadium sal hulle julle selfs doodmaak en dan mekaar gelukwens met die groot guns wat hulle vir God gedoen het.

3. Hulle sal hulle met sulke dinge besig hou omdat hulle nie weet wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is.

4. Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.”

5. “Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie.

6. “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het.

7. Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

8. En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle.

9. “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie.

10. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie.

11. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop.

12. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie.

13. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het.

14. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is.

15. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het.

16. “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle My nie meer sal sien nie. Maar dit gaan nie vir lank wees nie. Na ’n rukkie sal julle My weer sien.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 16