Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:16-24 Die Boodskap (DB)

16. “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle My nie meer sal sien nie. Maar dit gaan nie vir lank wees nie. Na ’n rukkie sal julle My weer sien.”

17. Sy dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Waarvan praat Hy? Wat is al hierdie praatjies van nou sien en dan weer nie sien nie, of dat Hy na sy Vader toe gaan?

18. En wat bedoel Hy met die ‘tyd wat nader kom’? Ons wens ons het geweet, want ons verstaan nie wat hier aangaan nie.”

19. Jesus het agtergekom dat hulle brand om te hoor wat Hy hieroor te sê het. “Wonder julle oor wat Ek vir julle gesê het?

20. Laat Ek julle so ’n bietjie meer vertel. Dan sal julle beter verstaan. Julle gaan eers baie hartseer wees; so hartseer dat die trane oor julle wange gaan loop. Dan gaan die ongelowiges hande klap van blydskap. Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander.

21. Weet julle hoe dit gaan wees? Dit sal wees soos ’n vrou wat ’n baba kry. Terwyl sy besig is om die baba te kry, is dit baie seer. Maar as die baba eers eenmaal daar is, is sy die ene glimlag en blydskap oor haar kind. Sy dink nie eens weer aan al die pyn nie.

22. Net so is dit met julle. Julle voel nou baie hartseer omdat Ek weggaan. Maar na ’n rukkie sal julle My weer sien.

23. Dan sal daar geen keer wees aan julle blydskap nie. Niemand sal julle meer hartseer kan maak nie. Wanneer dit eers gebeur, sal van al julle vrae nie een meer oorbly nie. Luister mooi. Julle sal ander dinge begin vra. Wat julle ook al van my Vader vra om my saak in hierdie wêreld te bevorder, sal God vir julle gee.

24. Tot nou toe het julle nog nooit so iets gevra nie. Neem vrymoedigheid en vra! Julle blydskap sal geen einde hê nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 16