Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15:12-24 Die Boodskap (DB)

12. Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie.

13. As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is.

14. Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag.

15. Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel.

16. Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het. En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet ’n vrugbare lewe vir God gaan leef. Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak. Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen.

17. Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê.”

18. Jesus het verder gegaan: “Mense wat nie Christene is nie, gaan die wêreld vir julle baie moeilik maak. Maar troos julle daaraan: hulle het dit al met My gedoen.

19. Hulle hou net van mense wat soos hulle is en doen wat hulle doen. Julle is nie soos hulle nie. Julle behoort aan My. Ek het julle gekies om aan my kant te kom staan. Daarvan hou die ongelowiges niks en daarom gaan julle dit ontgeld.

20. Julle onthou mos nog wat Ek vir julle gesê het: ‘Die baas is belangriker as die werker.’ Daarom is dit logies dat as hulle hulle bes probeer om dit vir My so sleg moontlik te maak, hulle mos dieselfde met julle sal probeer doen.“As hulle nie luister na wat Ek vir hulle sê nie, sal hulle mos ook nie na julle luister nie.

21. Hierdie mense ken nie my Vader wat My gestuur het nie. Daarom tree hulle so snaaks teenoor julle op. Hulle doen dit omdat julle my vriende is en na My luister.

22. Hulle hou nie van My nie, omdat Ek vir hulle kom sê het wat reg en verkeerd is. Hulle besef natuurlik hier diep in hulleself dat hulle nie reg lewe nie, maar hulle is te hardkoppig om dit te erken. Nou het hulle geen verskoning meer vir hulle swak gedrag nie.

23. Daarom haal hulle dit nou maar op My uit. Deur dit te doen maak hulle my Vader ook sleg.

24. As dit nie vir My was nie, sou niemand hulle kon blameer nie. Hulle sou dan mos nie geweet het wat reg of verkeerd is nie. Toe kom Ek. Die dinge wat Ek gedoen het, het hulle nog nooit gesien nie. Niemand kon of het dit nog ooit gedoen nie. Nou neem hulle My en my Vader bitter kwalik en Ons is vir hulle soos vyande.

Lees volledige hoofstuk Johannes 15