Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:34-50 Die Boodskap (DB)

34. Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!”

35. Die volgende dag was Johannes weer op sy pos. Twee van sy volgelinge was saam met hom daar.

36. Jesus stap toe daar verby. Johannes het Hom gesien en gesê: “Kyk mooi! Hy is die Offerlam van God!”

37. Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan.

38. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.)

39. “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het.

40. Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas.

41. Hy het daar en dan vir Simon, dit is sy broer, gaan soek.

42. Toe hy hom kry, sê hy vir hom: “Ons het die Messias gekry.” (Die Griekse woord vir “Messias” is “Christus”.) Simon is toe agter Andreas aan na Jesus toe. Daar gekom, sien Jesus vir Simon en sê: “Jy is Simon uit die familie van Johannes. Hier tussen ons sal jy Sefas wees.” (“Sefas” is ’n ander woord vir “Petrus”.)

43. Die volgende dag was Jesus van plan om na Galilea toe te gaan. Hy loop toe vir Filippus raak. “Kom saam met My,” nooi Jesus hom uit.

44. Filippus het uit Betsaida gekom waar Andreas en Petrus ook gebly het.

45. Die nuus oor Jesus het vinnig versprei. Filippus het vir Natanael gekry en hom weer vertel: “Ons het die Een gekry oor wie Moses geskryf het. Jy weet mos, dit is die Een oor wie die profete ook so geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef wat in Nasaret bly.”

46. “Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie. “Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou.

47. Terwyl Natanael nog in Jesus se rigting op pad was, het Jesus al gesê: “Kyk, hier is ’n ware, egte Israeliet. Hy is eerlik en opreg. Hy het glad niks om weg te steek nie.”

48. “Van waar af ken U my dan?” vra Natanael.“Jy was nog daar onder ’n vyeboom toe het Ek jou al raakgesien, nog voordat Filippus met jou gepraat het.”

49. “Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!” het dit oor Natanael se lippe gerol.

50. Jesus sê toe vir hom: “Jy glo en vertrou My omdat Ek maar net vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het. Eintlik het jy nog niks gesien nie! Wag maar, daar kom nog baie groter ervarings as dit.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1