Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4:8-17 Die Boodskap (DB)

8. Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie.

9. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees.

10. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.

11. Liewe broers en susters, moenie lelik praat van mekaar nie. Iemand wat oor sy mede-Christen skinder of sê hy is sleg, maak eintlik God se wil sleg en praat teen die wet van God. As jy sê God se wil is sleg, doen jy mos nie wat God wil hê nie. Dan hou jy jou belangriker as sy wet.

12. Daar is net een Persoon wat belangriker is as die wet en dit is die Een wat die wet gemaak het. Hy alleen kan besluit wie vrygespreek word en wie veroordeel word. Wie is jy nou miskien om te maak of jy kan oordeel of iets kan sê oor jou medemens?

13. Kom nou; luister ’n bietjie na julleself. Julle sê: “Ons gaan sommer nou of miskien môre na daardie stad toe. Daar gaan ons ’n jaar bly. Ons gaan lekker besigheid doen en sakke vol geld maak.”

14. Sê my, weet jy presies wat môre gaan gebeur? Kan jy dit regtig sê? Dink maar aan die lewe. Dit is so onseker en kortstondig. Dit is soos weerlig wat slaan. Die een oomblik is dit helder daar, maar die volgende oomblik is dit weg.

15. Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.”

16. Julle praat egter so groot asof alles net van julle alleen afhang. Dit is verkeerd, hoor! Die Here hou nie daarvan nie.

17. As julle dan weet wat reg is om te doen en julle steur julle nie daaraan nie, leef julle nie soos die Here dit wil hê nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 4