Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 3:11-17 Die Boodskap (DB)

11. Het jy al ’n kraan oopgedraai waar daar terselfdertyd vuil en skoon water uitloop?

12. Vriende, het julle al na ’n perskeboom geloop om te gaan druiwe pluk, of na ’n vyeboom om perskes te soek? Net so min kan daar vuil en skoon water tegelyk uit ’n kraan loop. Dit geld vir die tong ook.

13. Wie van julle het die lewenswysheid om te verstaan hoe ’n mens die spel van die lewe sinvol en reg moet speel? Laat hy dit wys deur die manier waarop hy hom gedra. Nederig en op sy plek moet hy doen wat God wil hê ’n mens moet doen om sinvol te leef.

14. As die een onder julle egter vir die ander een niks gun nie en altyd beter wil wees as die ander een, moet julle nie maak of julle weet wat ’n sinvolle lewe is nie. Julle jaloesie onder mekaar wys dan dat julle lieg.

15. “Lewenswysheid” wat die taal van jaloesie en selfsug praat en mense gedurig wil hap of seermaak, kom nie van God af nie.

16. Nee, dit kom van die duiwel af. Iemand wat optree volgens die maatstawwe wat mense stel, dink dit is hoe ’n mens behoort te leef. Dit is egter nie wat God dink nie. Want waar daar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie. Hulle is gedurig aanmekaar. Dit pla hulle ook nie om sommer die lelikste goed aan mekaar te doen nie.

17. Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie.So iemand sal in vrede met ander mense saamleef; hy trap nie op ander nie, maar neem hulle gevoelens in ag; so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie; hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag; wat hy doen, sal altyd net goed vir ander wees. Hy sal nie op ’n onregverdige manier kant kies nie. Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 3