Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 6:13-20 Die Boodskap (DB)

13. God het Abraham iets beloof. Om vir Abraham te wys hoe ernstig Hy is, het Hy ’n eed afgelê. Om ’n eed te neem moet iemand die gesag van iets groters as hyself inroep. Vir God is daar egter nie iets wat groter is as Hy nie. Daarom het God Homself ingeroep en vir Abraham

14. gesê: “Ek sal baie goed vir jou wees en vir jou ’n groot nageslag gee.”

15. Abraham het geduldig gewag tot God gedoen het wat Hy beloof het.

16. Soos ek gesê het, as iemand ’n eed neem, roep hy die gesag in van iets of iemand wat groter is as hy. Dan twyfel niemand meer dat die persoon ernstig is oor wat hy sê nie.

17. Daarom het God ook ’n eed geneem. Hy wou doodseker maak dat nie Abraham of sy nageslag sou twyfel dat Hy sal doen wat Hy beloof het nie.

18. Daar is nou twee dinge wat soos ’n paal bo water staan en nooit verander sal kan word nie: daar is die belofte van God en die eed wat Hy geneem het. En God kan nie lieg nie. Ons wat na God toe is om gered te word kan daarom vir seker weet dat God sy beloftes sal hou.

19. Om God so te vertrou is soos ’n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God self in die heiligste van heilige plekke.

20. Jesus, wat die pad na God vir ons oopmaak, is klaar daar ter wille van ons. Hy is mos ons Hoëpriester op dieselfde manier as wat Melgisedek ’n priester was.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 6