Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 13:4-12 Die Boodskap (DB)

4. Mense wat getroud is, moet die huweliksband respekteer en mag nie rondslaap nie. God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen.

5. Wees tevrede met wat julle het en moenie heeltyd agter geld aanhardloop asof dit die belangrikste ding in julle lewe is nie. God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.”

6. Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?”

7. Moenie die geestelike leiers vergeet wat die boodskap van God aan julle vertel het nie. Kyk hoe hulle geleef het tot hulle dood is en vertrou dan op die Here net soos hulle op Hom vertrou het.

8. Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos Hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees.

9. Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie.

10. Ons het mos ’n nuwe altaar. Die priesters van die ou ooreenkoms het nie die voorreg om saam met ons rondom die nuwe altaar fees te vier nie.

11. Volgens die ou ooreenkoms het die hoëpriester altyd die bloed in die Heiligste deel ingebring, terwyl die dooie diere buite die blyplek van die mense verbrand is.

12. So is Jesus ook buite die stad dood, sodat Hy mense met sy bloed vir God aanvaarbaar kon maak.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 13