Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:24-29 Die Boodskap (DB)

24. Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel.

25. Moet onder geen omstandighede julle rug vir God draai wanneer Hy met julle praat nie. Die mense wat nie na Hom wou luister toe Hy met hulle hier op aarde deur Moses gepraat het nie, het lelik in die stof gebyt. As ons ons dan nie meer steur aan God wat uit die hemel met ons praat nie, sal dit nog slegter met ons gaan.

26. Destyds het sy stem die aarde laat bewe, maar nou beloof Hy: “Ek sal nog ’n keer praat, en hierdie keer sal nie net die aarde bewe nie, maar ook die hemel.”

27. Met die woorde “nog ’n keer” bedoel Hy dat alles op aarde uitmekaargeskud gaan word. Net dié dinge sal oorbly wat vir altyd daar sal wees.

28. God maak ons nou deel van sy koninkryk wat vir altyd daar sal wees. Daaroor moet ons oorloop van dankbaarheid. Laat ons Hom dien met eerbied en al die respek wat Hy verdien en laat ons besef hoe klein ons regtig in vergelyking met Hom is. Daar staan nie verniet geskryf nie:

29. “God is soos ’n vuur wat alles tot as kan verbrand.”

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12