Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 10:8-24 Die Boodskap (DB)

8. Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.)

9. Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring.

10. So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.

11. Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie.

12. Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit.

13. Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi.

14. Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het.

15. Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees:

16. “Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.”

17. En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.”

18. As God Hom dan nou nie meer aan hierdie verkeerde dinge steur nie, is dit ook mos nie meer nodig om allerhande offers daarvoor te bring nie.

19. My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus vir ons gesterf het.

20. Ons het gesê dat daar tussen die twee kamers in die Heilige plek ’n gordyn gehang het. Jesus se liggaam kan met dié gordyn vergelyk word. Die gordyn van Jesus se liggaam is geskeur om so ’n nuwe pad na die lewe saam met God oop te maak.

21. Christus is die groot priester wat in beheer is in God se huis.

22. Juis daarom kan ons opreg in God se huis ingaan sonder om te twyfel oor dit waarop ons vertrou. Ons binneste is mos silwerskoon gemaak deur die bloed van Jesus, sodat niks ons meer pla nie, en ons liggaam is met skoon water gewas. God breek nooit sy woord nie; op Hom kan ons reken.

23. Daarom kan ons sonder enige twyfel vashou aan die beloftes wat God aan ons gemaak het.

24. Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 10