Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:17-25 Die Boodskap (DB)

17. Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: “Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was.

18. Hy het my na jou toe laat kom sodat jy weer kan sien en sodat jou lewe vervul kan word met die Heilige Gees.” Ananias het skaars klaar gepraat, toe val daar iets soos skille van Saulus se oë af. Daarna kon hy weer sien. Hy is ook gedoop.

19. Toe het hy weer begin eet. Sy liggaamskragte het gou teruggekeer. Daarna het Saulus nog ’n ruk by die gelowiges in Damaskus gebly.

20. Saulus het by die Joodse aanbiddingsplek daar in Damaskus ingestap en vir die mense vertel dat Jesus die Seun van God is.

21. Almal wat hom hoor praat het, was baie verbaas. “Wat gaan nou aan? Is hy nie die man wat in Jerusalem verwoesting gesaai het onder almal wat in daardie Jesus glo nie? Hy het dan juis hierheen gekom om hulle te vang sodat hulle voor die hoëpriester aangekla kan word,” het hulle vir mekaar gesê.

22. Hierdie opmerkings het Saulus nie van stryk gebring nie. Die Here was by hom met sy groot krag. Saulus het die Jode later skoon deurmekaargepraat. Hy het vir hulle gewys dat Jesus regtig die Messias is, die Een vir wie God gestuur het om ons sondes weg te vat.

23. Die Jode het later besluit om Saulus dood te maak,

24. maar gelukkig het hy daarvan te hore gekom. Om seker te maak dat Saulus nie ontsnap nie, het hulle toe die stad se hekke dag en nag laat oppas.

25. Die gelowiges het ’n slim plan gemaak. Een nag het hulle Saulus in ’n groot mandjie gesit en hom oor die stadsmuur laat afsak.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9