Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:26-40 Die Boodskap (DB)

26. ’n Rukkie later het ’n engel van die Here na Filippus gekom en vir hom gesê: “Jy moet dadelik vertrek. Vat daardie verlate pad vanaf Jerusalem na Gasa toe. Begin stap in ’n suidelike rigting.”

27. Filippus het dit gedoen. Langs die pad het hy op ’n Etiopiër afgekom. Dit was ’n ontmande amptenaar wat in diens van koningin Kandake van Etiopië was. Hy was haar minister van finansies. Hierdie man was pas in Jerusalem om God te gaan aanbid. Nou was hy weer op pad terug na sy eie land toe.

28. Filippus het van ver af gesien hoe hy op sy wa sit en lees. Hy was besig om hardop uit die profeet Jesaja te lees.

29. Die Heilige Gees sê toe vir Filippus: “Gaan na daardie man toe. Klim by hom op sy wa.”

30. Filippus het vinnig nader gehardloop en gehoor hoe die amptenaar uit die profeet Jesaja sit en lees. “Verskoon tog, Meneer, maar verstaan jy wat jy daar lees?” het hy hom gevra.

31. “Nee, want ek het niemand om vir my te verduidelik wat dit alles beteken nie,” het die Etiopiër geantwoord. “Maar wag, klim hier langs my op die wa. Dalk kan jy my help,” het hy vir Filippus gesê.

32. Filippus sien toe dat hy besig was om die volgende verse uit Jesaja te lees:“Hy is soos ’n skaap na die slagpale toe gevat om geslag te word. Hy is soos ’n lam wat nie ’n geluid maak wanneer hy geskeer word nie;

33. hy het nooit eens sy mond oopgemaak nie. Die mense het hom verneder. Hy is glad nie regverdig verhoor nie. Hulle het hom doodgemaak. Wie sal nou as sy nageslag beskou word?”

34. Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê my, oor wie skryf die profeet hier?” Filippus het

35. dadelik begin om uit hierdie teksgedeelte met die Etiopiër oor Jesus te praat.

36. ’n Rukkie later ry hulle by ’n waterstroom verby. Toe die Etiopiër dit sien, sê hy: “Kyk, hier is water. Hoekom kan ek nie sommer hier gedoop word nie?” Dadelik het hy die wa tot stilstand gebring en saam met Filippus die water ingestap, waar hy deur Filippus gedoop is.

38. Toe hulle twee daarna uit die water kom, het die Heilige Gees skielik vir Filippus kom wegvat. Die Etiopiër kon hom nie meer sien nie.

39. Maar hy het glad nie omgegee nie, want hy was verskriklik bly oor wat met hom gebeur het. Sy lewe was nou splinternuut omdat hy die goeie nuus oor Jesus geglo het.

40. Intussen het Filippus in Asdod aangekom. Van daar af het hy van die een plek na die ander die evangelie aan die mense verkondig tot reg in Sesarea.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8