Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:54-60 Die Boodskap (DB)

54. Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie, want hy kon tot binne-in die hemel sien.

55. Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom staan. Toe sê hy hardop:

56. “Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens. Hy staan op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.”

57. Na hierdie woorde het daar chaos losgebars. Party van die raadslede het hulle ore toegedruk omdat hulle nie verder na Stefanus se woorde wou luister nie. Ander het opgespring en op hom afgestorm.

58. Hulle het hom gegryp en uitgesleep tot buitekant die stadsmure. Daar het hulle hom met klippe begin gooi. Party van die mans het hulle hemde uitgetrek sodat hulle Stefanus nog makliker onder die klippe kon steek. Hulle het ’n jongman met die naam Saulus gevra om hulle klere op te pas.

59. Terwyl die klippe op Stefanus neergereën het, het hy gebid: “Here Jesus, neem my nou na U toe.” Toe het hy op sy knieë neergeval en hard uitgeroep: “Here, moenie dié sonde teen hierdie mense laat tel nie! Vergeef hulle.” Dit was Stefanus se laaste woorde. Hy het daarna inmekaargesak en is daar op die plek dood.

60. Toe dit gebeur, het Saulus al die klipgooiers gaan gelukwens met die moord wat hulle gepleeg het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7