Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:11-27 Die Boodskap (DB)

11. “In daardie tyd was daar ’n groot hongersnood in Egipte en Kanaän. Die mense het niks gehad om te eet nie. Ons voorouers het ook baie swaargekry.

12. Toe Jakob hoor dat daar nog koring in Egipte te koop was, het hy sy seuns dadelik soontoe gestuur. Later het hulle teruggekom en vir hulle pa gesê dat daar wel koring in Egipte was. Jakob het hulle weer Egipte toe laat gaan om koring te koop.

13. Tydens hierdie besoek het Josef vir sy broers gesê wie hy regtig is. Hy het sy familie ook aan die farao gaan bekendstel.

14. Daarna het hy sy pa, Jakob, en die res van sy familie van sowat 75 mense laat haal om in Egipte te kom bly.

15. Jakob is uiteindelik daar dood, so ook al ons stamvaders.

16. Die liggame is na Sigem in Kanaän geneem. Daar is hulle begrawe in ’n graf wat Abraham vroeër vir ’n groot klomp geld van die seuns van Hemor gekoop het.”

17. “Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly.

18. ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het.

19. Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word.

20. “In daardie tyd is Moses gebore. En wat ’n mooi baba was hy nie! Sy pa en ma het hom drie maande lank in hulle huis weggesteek en versorg.

21. Maar uiteindelik moes hulle ook van hom afstand doen. Hulle het hom toe in ’n mandjie in die Nylrivier gaan sit. Gelukkig het die dogter van die farao hom in die Nyl gekry en hom toe soos haar eie seun grootgemaak.

22. Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik.

23. “Toe Moses sowat 40 jaar oud was, het hy op ’n dag besluit om besoek af te lê by sy eie mense, die Israeliete.

24. Daar het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van hulle slaan. Dit het hom so kwaad gemaak dat hy die man op die plek doodgemaak het.

25. Moses het gedink dat sy volksgenote sou besef dat hy aan hulle kant was, maar hy het hom lelik misgis.

26. Die volgende dag toe hy weer daar opdaag, het hy op twee Israeliete afgekom wat met mekaar baklei. Hy het vrede tussen hulle probeer maak. ‘Julle is dan broers. Vir wat slaan julle mekaar so?’ het hy hulle gevra.

27. “Die een wat die bakleiery begin het, het Moses weggestamp en gesê: ‘Jy’s ’n mooi een om te praat! Wie het jou as skeidsregter oor ons aangestel? Jy kom speel hier baas terwyl jy self gister ’n Egiptenaar doodgemaak het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7