Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:19-31 Die Boodskap (DB)

19. Hulle wou my toe loslaat. Party Jode het egter so sterk daarteen beswaar gemaak dat ek verplig was om my op die keiser te beroep. Maar moenie bekommerd wees nie.

20. Ek is nie van plan om my volk by die keiser in die moeilikheid te bring nie. Daarom het ek julle vandag hierheen laat kom. Ek wil hê julle moet weet dat ek steeds ’n lojale lid van my volk is. Ek is egter ’n gevangene omdat ek glo in Hom op wie se koms ons voorouers al die jare gewag het.”

21. Die Jode het daarop vir Paulus gesê: “Niemand uit Judea het ons laat weet dat jy Rome toe kom nie. Hier het ook niemand opgedaag wat iets slegs oor jou vertel het nie.

22. Ons sou egter graag wou hoor wat jy te sê het oor daardie nuwe sekte wat in Jesus glo. Die mense hier sê allerhande lelike dinge oor hulle.”

23. Hulle het besluit om ’n paar dae later weer bymekaar te kom. Op dié dag het ’n groot groep Jode in die gastekamer in Paulus se huis bymekaargekom. Daar het Paulus van vroegoggend tot laataand met hulle oor God se koninkryk gepraat. Hy het hulle probeer oorreed om in Jesus te glo. Hy het ook vir hulle gewys dat Moses en die profete reeds oor Jesus Christus geskryf het.

24. Party van die Jode is deur Paulus se woorde oortuig, maar ander het geweier om te glo wat hy sê.

25. Hierdie besoekers het onder mekaar aan die stry geraak. Toe hulle begin huis toe gaan, het Paulus die laaste woord gehad: “Die Heilige Gees was heeltemal reg toe Hy deur die profeet Jesaja vir ons voorouers gesê het:

26. ‘Gaan na my volk toe en sê vir hulle: Al hoor julle met julle ore, verstaan julle net mooi niks nie. Al kyk julle met julle oë, is julle eintlik blind.

27. Hierdie mense se harte is kliphard. Hulle ore is doof. Hulle oë is heeltemal toe. Daarom kan hulle niks sien of hoor nie. Hulle verstaan nie wat Ek besig is om te doen nie; daarom kom hulle nie terug na My toe sodat Ek hulle gesond kan maak nie.’

28. “Julle het julle kans verspeel,” het Paulus bygevoeg. “Ek sê vir julle dat God se reddingsboodskap van nou af aan mense verkondig gaan word wat nie aan die Joodse volk behoort nie. Hulle sal wel na God luister!”

30. Daarna het Paulus twee jaar lank in sy gehuurde huis in Rome gebly. Hy het almal wat hom kom besoek het met oop arms ontvang. Paulus het met al sy gaste oor God se nuwe wêreld gepraat.

31. Hy het gesê dat Jesus die Messias, die Gestuurde van God is. Hy regeer nou as Here oor alles en almal. Niemand het Paulus verbied om oor Jesus te praat nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28