Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:31-38 Die Boodskap (DB)

31. ’n Paar leiersfigure in die provinsie wat op daardie tydstip in Efese was en wat goeie vriende van Paulus was, het hom ook laat weet om onder geen omstandighede na die amfiteater toe te gaan nie.

32. Intussen het die skare in die amfiteater aangehou om slagspreuke te skree. Dit was later ’n hele deurmekaarspul. Almal het geskree net wat hulle wou. Niemand het ’n idee gehad waaroor dit eintlik gaan nie. Onder al die geraas deur het die Jode een van hulle leiers, ’n man met die naam

33. Aleksander, aangesê om die skare toe te spreek. Hy het probeer om hulle stil te maak en aan hulle te verduidelik dat die Jode nie die oorsaak van die oproer was nie. Maar toe die skare agterkom dat hy ’n Jood is, het hulle hom doodgeskree.

34. Met nuwe geesdrif het hulle weer begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Twee ure lank het dit so aangehou.

35. Uiteindelik het die stadsklerk daar opgedaag en die skare tot bedaring gebring. Hy het vir hulle gesê: “Inwoners van Efese, almal weet tog hoe belangrik ons stad is. Ons is immers die beskermers van Artemis se groot tempel en van haar standbeeld wat lank terug uit die hemel geval het.

36. Niemand kan tog daarteen stry nie. Word asseblief nou kalm. Moenie iets onverantwoordeliks aanvang nie.

37. Laat die twee mans los wat julle hierheen gesleep het. Hulle het niks uit Artemis se tempel gesteel nie. Hulle het ook geen lelike woord oor haar gesê nie.

38. Demetrius en sy klompie vakmanne moet maar ’n klag by die hof gaan lê as hulle voel dat iemand hulle te na gekom het. Ons het ’n goeie regstelsel met regters en howe.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19