Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:16-28 Die Boodskap (DB)

16. Dadelik het die man in wie die bose mag was, hulle wreedaardig aangeval. Hy was so sterk dat hulle niks teen hom kon doen nie. Hulle klere is van hulle afgeskeur. Op die ou end het hulle daarin geslaag om weg te kom, kaal en bebloed.

17. Gou-gou het almal in Efese gehoor wat met die seuns van Skeva gebeur het. Die inwoners het baie bang geword. Almal het met groot eerbied oor die Here Jesus gepraat. Baie nuwe bekeerlinge het in die openbaar vertel hoe hulle vroeër in sonde geleef en hoe Jesus hulle lewens verander het.

18. ’n Klompie hekse en towenaars het ook tot bekering gekom. Daar voor almal het hulle hulle boeke verbrand waarin al hulle towerformules opgeskryf was. Hierdie boeke was peperduur.

19. Dit was sowat 50 000 silwermuntstukke werd. (Dit was sowat 137 jaar se salaris vir ’n gewone werker!)

20. Die Woord van die Here het in Efese van krag tot krag gegaan. Al hoe meer mense het geglo.

21. Paulus het toe besluit om weg te gaan uit Efese. Hy was van plan om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Daarna wil ek baie graag Rome toe gaan,” het Paulus vir die gelowiges gesê. “Ek móét die stad eenvoudig sien!” Paulus het solank twee van sy helpers,

22. Timoteus en Erastus, vooruit na Masedonië gestuur. Hy self het eers nog ’n rukkie in Asië agtergebly.

23. Op ’n dag het daar toe in die stad ’n betoging oor Paulus se preke uitgebreek. Dit is veroorsaak deur ’n man met die naam Demetrius.

24. Hy was ’n silwersmid wat silwerbeeldjies van die godin Artemis gemaak het. Hy was ook ’n baie suksesvolle sakeman wat aan ’n hele aantal vakmanne werk verskaf het. Demetrius het gesorg dat hulle almal goeie winste maak uit die vervaardiging van hierdie beelde.

25. Op ’n dag het hy hulle bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Vriende, ons maak regtig ’n goeie bestaan uit ons beeldjies. Dit sal egter nie meer lank so aanhou as ons nie iets drasties doen nie.

26. Daardie Paulus, van wie julle ook al gehoor het, is besig om die hele wêreld deurmekaar te maak met sy vreemde leringe. Omtrent elkeen in ons stad, ja, byna die hele Asië, begin nou al glo dat ons handgemaakte gode nie regtig lewe nie.

27. “As dit so aanhou, gaan niemand meer ons beelde koop nie. Die mense is besig om al hulle respek vir ons handewerk te verloor. Ons groot godin Artemis se naam word deur die modder gesleep. Binnekort sal niemand meer haar tempel wil besoek nie. Sy word immers deur ons hele provinsie en oor die hele wêreld heen as ’n magtige godin vereer.”

28. Toe die mense hoor wat Demetrius sê, was hulle baie kwaad. Hulle het begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Hulle geskree het die hele stad gou in oproer gehad. Baie mense het by die stad se amfiteater begin saamdrom.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19