Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Christus het ons vrygemaak om regtig vry te wees. Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van hulle skewe sienings maak nie.

2. Kom ek sê reguit vir julle wat ek bedoel. As een van julle julle laat besny, maak julle ’n bespotting van die nuwe vryheid wat Christus aan julle gegee het. Dan kan julle maar net sowel ophou om in Hom te glo.

3. Dan moet julle ook weer die wet gehoorsaam.

4. Julle wat besluit het om al hierdie godsdienstige reëls en wette te hou om in die regte verhouding met God te wees, sny julle heeltemal van Christus af. Julle het buite die kragveld van sy genade beland.

5. Aan die ander kant, ons wat glo, het ’n wonderlike vooruitsig. Omdat die Gees by ons is, weet ons dat ons op pad is na God se nuwe wêreld. Hy sal sorg dat ons saak met God reg is wanneer ons eendag voor Hom moet gaan staan.

6. As ons in Christus glo, maak dit glad nie saak of ons die teken van die besnydenis aan ons liggaam dra of nie, want dit tel glad nie meer by God nie. Dit is uit die mode; ou nuus. Al wat nou saak maak, is geloof, daardie soort geloof wat maak dat ons ander mense met alles in ons liefhet.

7. Tot dusver het julle baie goed gevorder op die pad van die geloof. Soos goeie atlete het julle voluit gehardloop.

8. Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie. As julle op hierdie verkeerde pad aanhou loop, gaan julle later die hele kerk saam met julle in die gemors insleep.

9. Onthou, ’n klein bietjie suurdeeg maak immers ’n groot stuk deeg suur.

10. Maar voordat julle dink ek het julle heeltemal afgeskryf, wil ek darem net sê: ek is nie te mismoedig oor julle nie. In vertroue op die Here weet ek dat julle nie op sleeptou geneem sal word deur verkeerde leringe nie. Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5