Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1:15-17-30 Die Boodskap (DB)

15-17. Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie. Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is.

18. Maar wat maak dit nou alles saak? Vir my is die belangrikste dat mense van Christus moet hoor. Dit maak eintlik nie soveel saak of mense met skoon bedoelings ander mense van Jesus vertel of nie. Solank dit net gedoen word, maak dit my hart al klaar bly.En dit is nie al wat my bly maak nie.

19. Ek weet dat julle vir my bid en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het. Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie.

20. Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie.

21. Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie.

22. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie.

23. Ek voel soos iemand wat in twee verdeel is. Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit?

24. Maar aan die ander kant is dit vir julle beter en selfs nodig dat ek eers nog ’n rukkie bly lewe.

25. Inderwaarheid is ek seker dat ek nie nou al sal doodgaan nie. Ek sal nog ’n ruk lank vir julle gespaar bly. Ek moet julle eers verder op die pad van die geloof help sodat julle net al hoe blyer kan word omdat julle Christene is.

26. Ek weet mos, as ek binnekort weer daar by julle aangestap kom, sal julle net nie uitgepraat kan raak oor wat Christus Jesus alles vir my gedoen het nie.

27. Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou na julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.

28. Moenie dat die ander wat van julle verskil, julle senuagtig of bang maak nie. Die feit dat julle nie sommer weghardloop nie, sal vir hulle wys dat hulle op die verkeerde pad en julle op die regte pad is. Julle pad loop na God toe. Hy is die Een wat julle red omdat julle in Christus glo. Ons het dit nie verdien nie, maar God het dit ter wille van Christus vir ons gedoen.

29. Daarom is dit nie te veel gevra om ter wille van Christus ook swaar te kry nie. Kyk maar na my. Ek is nie al een wat ter wille van Jesus swaarkry nie.

30. Ek en julle stap sy aan sy as Christene, en daarom lê daar soms ook vir julle ’n moeilike, opdraande pad voor.

Lees volledige hoofstuk Filippense 1