Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 6:16-24 Die Boodskap (DB)

16. Dan is daar nog jou geloof. Die intieme verhouding met die Here moet soos ’n skild wees waarmee jy al die giftige aanvalle van die Bose keer en eenkant toe slaan.

17. Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie; nee, jy is gered. Dit is soos ’n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm. Die boodskap van God is soos ’n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer.

18. Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie. En moenie van my vergeet nie.

19. Bid asseblief vir my dat die Here vir my die regte woorde sal gee wanneer ek met mense oor Hom praat, sodat ek nie bang sal wees om vir mense van Jesus te vertel nie, al verstaan hulle nie altyd alles mooi nie.

20. Al sit ek nou hier in die tronk, het God my aangestel om die goeie nuus aan almal te vertel. Bid tog asseblief dat ek nie bang sal wees om die boodskap so reguit en duidelik te verkondig soos ek moet nie.

21. Ek wil graag hê dat julle moet weet wat hier aangaan en hoe dit met my gaan. Tigikus, my liewe broer en getroue werker vir die Here, sal julle alles vertel.

22. Dit is juis waarom ek hom na julle toe stuur:

23. hy moet vir julle vertel hoe dit met my gaan sodat julle nie meer so bekommerd hoef te wees nie.

24. Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle die vrede gee wat net God kan gee. Mag die Vader en Jesus Christus vir julle die liefde en geloof gee wat julle nodig het. Mag God baie goed wees vir almal wat ons Here Jesus Christus vir ewig en altyd sal bly liefhê.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 6