Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 4:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen.

12. Ek het Tigikus Efese toe gestuur.

13. Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê.

14. Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken.

15. Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak.

16. Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie.

17. Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered.

18. Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees.

19. Sê asseblief groete vir Priscilla en Akwila asook vir almal in die gesin van Onesiforus.

20. Erastus het in Korinte gebly en Trofimus het siek geword; ek moes hom toe in Milete los.

21. Probeer asseblief om na my toe te kom voor die winter hier is. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander Christene sê ook groete.

22. Mag die Here by jou bly en mag Hy baie goed wees vir julle, ver meer as wat julle verdien.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 4