Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 3:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Broers en susters, bid asseblief vir ons! Vra dat die Here se krag ons sal dra wanneer ons die goeie nuus bekend moet maak. Dan sal die evangelie soos ’n veldbrand deur die wêreld versprei. Bid asseblief dat God oral geëer sal word waar ons preek, presies soos wat daar by julle gebeur het.

2. Bid ook dat al hierdie goddelose en slegte mense wat dit vir ons so moeilik maak, daarmee sal ophou. Bid dat hulle planne sal misluk, want hulle glo nie in die Here nie.

3. Die Here is altyd getrou. Hy sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen die Bose se aanvalle beskerm.

4. Omdat julle in die Here bly, weet ek julle doen alles wat ek vir julle in my briewe voorskryf. En ek weet julle sal ook aanhou om dit te doen.

5. Mag die Here julle gedagtes aanraak sodat julle heeltyd sal fokus op God se groot liefde. En mag julle ook verstaan wat Christus alles vir ons opgeoffer het sodat julle ook enduit agter Hom sal aanstap.

6. Broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus sê ek reguit vir julle om weg te bly van daardie mense in die kerk wat in sonde lewe en hulle nie steur aan dit wat julle by my geleer het nie.

7. Julle onthou hoe ons opgetree het toe ons by julle was. Ons het vir julle die regte voorbeeld gestel wat julle kan navolg. Ons het nie op julle nek gelê en verwag dat julle die hele tyd vir ons kos en geld moes gee nie.

8. Nee, ons het dag en nag met ons eie hande gewerk sodat ons nie ’n las vir julle sou wees nie.

9. Natuurlik sou ons van julle kon verwag om vir ons te sorg. Maar ons het nie op ons regte aangedring nie. Nee, ons het besluit om julle te kom dien. Op hierdie manier het ons vir julle ’n voorbeeld gestel.

10. Mag ek julle ook herinner aan ’n belangrike ding wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was: “As iemand te lui is om te werk, moet ander gelowiges nie vir hom sorg nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Tessalonisense 3