Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 2:1-6 Die Boodskap (DB)

1. My liewe broers en susters, ek wil nou ernstig met julle praat oor daardie dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Van daardie dag af sal ons vir altyd saam met Hom in sy nuwe wêreld gaan bly.

2. Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het.

3. Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe.

4. Hy sal dink hy is baie beter as God. Daarom sal hy weier om voor Hom te buig. Maar dis nie al nie. Hierdie goddelose figuur sal voorgee dat hy self God is. Hy sal daar in die tempel waar die mense bymekaarkom om God te aanbid, gaan sit en sê: “Ek is God!”

5. Het julle dan al hierdie dinge vergeet? Ek het dit so mooi vir julle verduidelik toe ek daar by julle was.

6. Hierdie goddelose mens is nog nie op die toneel nie. Hy word nog teruggehou. Ek het ’n hele paar keer vir julle vertel wie dit is wat hom keer om nou al sy verskyning te maak, want die tyd is nog nie reg vir sy koms nie. Maar moenie dink alles is rustig en veilig nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Tessalonisense 2