Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 8:19-24 Die Boodskap (DB)

19. Die ander gemeentes wat geld vir hierdie fonds insamel, het hom aangewys om saam met ons Jerusalem toe te gaan. Daar gaan ons die kollekte aan die gelowiges oorhandig. Deur hierdie liefdeswerk wil ons die Here se Naam grootmaak. Dis ons enigste doel. Daarom doen ons ons bes om die geld reg te administreer sodat niemand ons goeie naam in twyfel trek nie.

20. Tot dusver het ons al ’n groot bedrag geld vir Jerusalem ingesamel. Ons kan nie bekostig dat iemand ons nou daarvan verdink dat ons hierdie geld misbruik wat die gelowiges aan ons toevertrou het nie.

21. Dit is vir ons belangrik dat ons optrede altyd reg moet wees, in die oë van God én in die oë van ander mense.

22. Daarom stuur ons nog ’n ander broer saam met Titus na julle toe. Hy het al baie kere bewys dat hy betroubaar is. Niemand twyfel oor sy goeie naam nie. Hy wil julle ook graag kom help. Vandat hy gehoor het hoe toegewyd julle is, is hy eers ywerig om na julle toe te kom.

23. Wat Titus betref: wel, julle weet mos dat hy al lankal saam met my werk om die goeie nuus uit te dra; ook tot daar by julle. Die twee broers wat saam met hom na julle toe kom, is verteenwoordigers van die verskillende gemeentes. Hulle almal glo in Christus. Hulle weerkaats ook sy heerlikheid.

24. Wys asseblief vir hulle dat julle hulle ook liefhet. Ontvang hulle soos julle eie broers. Ek het vir al die gemeentes vertel hoeveel julle vir ander mense omgee. Laat hierdie afgevaardigdes dit asseblief nou met hulle eie oë sien.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 8