Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 4:1-8 Die Boodskap (DB)

1. God is baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy dienaar om die goeie nuus oor Christus te gaan oorvertel. Daarom kry probleme my nooit onder nie.

2. Ek bly weg van al daardie lelike dinge wat mense in die geheim aanvang. Ek bedrieg nooit ander mense nie. En ek verdraai nie God se woord om by my eie sienings te pas nie. Inteendeel. Ek praat oop en bloot oor die waarheid. Mense kan daarom elke woord glo wat ek in die teenwoordigheid van God uitspreek.

3. As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld.

4. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is.

5. Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my.

6. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het.

7. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel:

8. Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 4