Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 3:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Uit my eie kan ek in elk geval niks regkry nie. God self het my toegerus om sy werk te doen. Hy het my aangestel as sy dienaar.

6. Ek moet vir mense gaan vertel van die nuwe ooreenkoms wat God tussen Hom en ons almal tot stand gebring het. Hierdie ooreenkoms is nie met pen en papier geskryf nie. Nee, luister mooi: dit is deur die Gees in ons lewe oorgeskryf. ’n Ooreenkoms op papier bring in elk geval niks anders as die dood nie. Maar die Gees gee vir altyd lewe. Kom ek verduidelik met ’n voorbeeld wat ek bedoel.

7. Julle weet mos dat al Moses se wette op klip uitgekap is. Toe hy dit daar op die berg ontvang het, het sy gesig so helder geblink dat die Israeliete hom nie in die oë kon kyk nie. Na ’n rukkie het die glans egter van sy gesig verdwyn. Hierdie wonderlike tydperk van die wet het nie daarin geslaag om mense by die ware lewe uit te bring nie. Maar dit was nogtans ’n ongelooflike tyd.

8. Dink dan net hoe groot hierdie nuwe era van die Heilige Gees is. Daardie vorige era waarin die wet mense oor hulle sondes veroordeel het, was regtig ryk aan glorie. Wat sal ons dan sê oor die nuwe era waarin ons nou leef? Ons het nie genoeg woorde om dit mee te beskryf nie. Dit skitter absoluut met God se heerlikheid.

9. Ons leef nou in die tyd waarin God mense uit sy goedheid van hulle sondes vryspreek omdat hulle in Hom glo.

10. Die glans van die ou era is niks in vergelyking met hierdie nuwe tyd nie.

11. Ek kan dit nie genoeg sê nie: as die era van die wet, wat natuurlik nou agter die rug is, met soveel glans gepaardgegaan het, hoeveel te meer sal hierdie nuwe era, wat vir altyd aanhou, met heerlikheid skitter!

12. Omdat ek weet dat ek ook deel is van die splinternuwe era van die Heilige Gees, die era wat vir altyd sal aanhou, kry niks my onder nie.

13. Gelukkig hoef ek nie soos Moses ’n sluier oor my gesig te trek nie. Julle onthou mos dat hy ’n sluier oor sy gesig gesit het sodat die Israeliete nie kon sien hoe die glans op sy gesig verdwyn nadat hy die wet ontvang het nie.

14. Maar hulle was blind vir dit wat God doen. Tot vandag toe gaan dit so met hulle. Wanneer die Israeliete na die wet van Moses luister daar waar hulle bymekaarkom om God te dien, begryp hulle steeds nie waaroor dit gaan nie. Daar hang nou nog ’n sluier oor hulle gesig. Net Christus kan dit wegvat.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 3