hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 3 Die Boodskap (DB)

Gelowiges is lewende briewe van Christus

1. Klink dit of ek nou besig is om oor myself te spog? Nee! Ek probeer julle glad nie beïndruk nie.

2. Julle self is immers my getuigskrif. Ek het nie die een of ander getuigskrif van julle kant af nodig om my goeie kwaliteite te besing soos party ander mense doen nie.

3. Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra. Julle is soos ’n brief wat in my hart neergeskryf is en wat ek elke dag lees. Natuurlik lees al die ander mense wat elke dag met julle te doen het, julle ook. Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is. Toe ek daar by julle gepreek het, het Hy in julle lewe begin skryf. Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie. Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik. Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie, maar op die tafels van julle hart. Hy het julle splinternuut gemaak.

Die era van die wet

4. Deur sy goedheid help Christus my om al my vertroue in God te stel. Daarom probeer ek nooit om iets uit eie krag te doen nie.

5. Uit my eie kan ek in elk geval niks regkry nie. God self het my toegerus om sy werk te doen. Hy het my aangestel as sy dienaar.

6. Ek moet vir mense gaan vertel van die nuwe ooreenkoms wat God tussen Hom en ons almal tot stand gebring het. Hierdie ooreenkoms is nie met pen en papier geskryf nie. Nee, luister mooi: dit is deur die Gees in ons lewe oorgeskryf. ’n Ooreenkoms op papier bring in elk geval niks anders as die dood nie. Maar die Gees gee vir altyd lewe. Kom ek verduidelik met ’n voorbeeld wat ek bedoel.

7. Julle weet mos dat al Moses se wette op klip uitgekap is. Toe hy dit daar op die berg ontvang het, het sy gesig so helder geblink dat die Israeliete hom nie in die oë kon kyk nie. Na ’n rukkie het die glans egter van sy gesig verdwyn. Hierdie wonderlike tydperk van die wet het nie daarin geslaag om mense by die ware lewe uit te bring nie. Maar dit was nogtans ’n ongelooflike tyd.

8. Dink dan net hoe groot hierdie nuwe era van die Heilige Gees is. Daardie vorige era waarin die wet mense oor hulle sondes veroordeel het, was regtig ryk aan glorie. Wat sal ons dan sê oor die nuwe era waarin ons nou leef? Ons het nie genoeg woorde om dit mee te beskryf nie. Dit skitter absoluut met God se heerlikheid.

9. Ons leef nou in die tyd waarin God mense uit sy goedheid van hulle sondes vryspreek omdat hulle in Hom glo.

10. Die glans van die ou era is niks in vergelyking met hierdie nuwe tyd nie.

11. Ek kan dit nie genoeg sê nie: as die era van die wet, wat natuurlik nou agter die rug is, met soveel glans gepaardgegaan het, hoeveel te meer sal hierdie nuwe era, wat vir altyd aanhou, met heerlikheid skitter!

12. Omdat ek weet dat ek ook deel is van die splinternuwe era van die Heilige Gees, die era wat vir altyd sal aanhou, kry niks my onder nie.

13. Gelukkig hoef ek nie soos Moses ’n sluier oor my gesig te trek nie. Julle onthou mos dat hy ’n sluier oor sy gesig gesit het sodat die Israeliete nie kon sien hoe die glans op sy gesig verdwyn nadat hy die wet ontvang het nie.

14. Maar hulle was blind vir dit wat God doen. Tot vandag toe gaan dit so met hulle. Wanneer die Israeliete na die wet van Moses luister daar waar hulle bymekaarkom om God te dien, begryp hulle steeds nie waaroor dit gaan nie. Daar hang nou nog ’n sluier oor hulle gesig. Net Christus kan dit wegvat.

15. Dit is tragies dat die Israeliete tot vandag toe na die wet van Moses luister sonder dat hulle regtig God se werk verstaan.

16. Ek sê weer: wanneer hulle hulle tot die Here bekeer, word hierdie sluier voor hulle gesig weggevat. Dán begryp hulle wie die Here regtig is.

17. Die Here is Gees. Hy is ’n lewende werklikheid, en nie maar net Iemand wie se Naam in ’n wetboek geskryf staan nie. Oral waar die Gees van die Here aan die werk is, word mense regtig vrygemaak. Almal wat glo, is nou vry. Ons kan die Here se heerlikheid weerkaats sonder dat daar sluiers oor ons gesigte hang. Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê.