Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 10:9-18 Die Boodskap (DB)

9. Maar wag, kom ons gesels eers ’n bietjie oor al daardie praatjies onder julle dat ek julle met my briewe probeer bangmaak.

10. Daar by julle word mos gesê: “Paulus se briewe is ernstig en kwaai, maar hy beteken net mooi niks wanneer hy hier is nie.

11. Die arme man maak maar ’n swak indruk en sy woorde is net ’n bondel wind. Hy preek ons skoon aan die slaap.” Hoor hier, dis alles leuens. Die mense wat hierdie stories versprei, moet weet dat ek altyd dieselfde is, of ek nou ’n brief aan julle skryf en of ek in lewende lywe daar by julle is.

12. Nou ja, ek sal dit nie waag om my te vergelyk met daardie mense wat nou by julle preek en wat so baie oor hulle eie prestasies spog nie. Hulle dink geloof is ’n geestelike kompetisie. Daarom vergelyk hulle hulle gedurig met mekaar om te kyk wie is die beste gelowiges. Dit is dom. Ek sal nooit waag om so iets te doen nie.

13. Ek praat net oor die werk wat God my gegee het om te doen, oor niks anders nie. Hy het my aangestel om die goeie nuus met ander mense te deel, ook met julle.

14. Ek werk slegs binne hierdie werksterrein waaroor God my aangestel het. En julle val ook binne my werksterrein.

15. Daarom kan niemand my daarvan beskuldig dat ek in iemand anders se terrein in Korinte kom inmeng het nie. Ek glo vas dat, soos julle geloof sterker word, ek sommer nog ’n baie groter werksterrein daar by julle gaan hê.

16. Want ek wil die goeie nuus nog tot ver anderkant Korinte se grense vir mense gaan vertel. God het daardie gebiede ook afgebaken as deel van my werksterrein. Ook daar sal ek nie in ander mense se werksterrein inmeng nie.

17. Die Bybel sê: “As jy wil spog, spog dan oor wat die Here doen.” Al jou eie groot dade waarmee jy so graag spog, tel in elk geval nie voor God nie.

18. Nee, al wat saak maak, is dat God met jou lewe tevrede is. Sy goedkeuring is al waarvoor jy moet leef.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 10