Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:11-25 Die Boodskap (DB)

11. As iemand klaar geskei is, moet hy nie weer met iemand anders trou nie. Die ander moontlikheid is natuurlik om weer na sy maat toe terug te gaan.

12-14. Oor wat verwag word van ’n Christen wat met ’n nie-Christen getroud is, het die Here nie destyds met ons gepraat toe Hy op aarde was nie. Laat ek vir julle sê wat ek dink: as die nie-Christen gewillig is om met die Christen getroud te bly, moet hulle nie skei nie. As ’n nie-Christen met ’n Christen getroud is, beteken dit nie dat die Here daardie huisgesin verwerp nie. Dit sou mos beteken dat Hy die kinders van die huisgesin ook verwerp. Dit doen die Here nie. Die Here aanvaar daardie huisgesin en daardie kinders behoort aan Hom.

15. Maar as die nie-Christen wil skei, laat hy dit doen. Die Christen hoef in so ’n geval nie te voel hy doen iets verkeerds as die nie-Christen sy goed vat en loop nie. Dit is beter so as om in onmin saam te leef, want God wil hê sy kinders moet in vrede leef.

16. As jy sê dat jy in onvrede getroud wil bly om so jou ongelowige huweliksmaat ’n Christen te probeer maak, waag jy ’n groot kans. Hoe weet jy of jou plan sal uitwerk?

17. In alle geval, julle moenie dink dat as julle Christene word, God skielik julle omstandighede verander nie. Elkeen moet sy lewe leef op die plek waar God hom wil hê en daar doen wat God van hom vra. Dit verwag ek oral van al die Christene.

18. Die mense onder julle wat besny is omdat hulle Jode is, hoef nie daaroor skaam te wees noudat hulle Christene geword het nie. As daar van julle is wat nie besny is nie, hoef julle dit ook nie te doen noudat julle Christene geword het nie.

19. Dit maak niks saak of julle nou besny is of nie. Wat eintlik van belang is, is of julle luister na wat God van julle vra.

20. Elkeen van julle moet doodgewoon met sy lewe aangaan, dáár waar hy was toe hy die stem van die Here gehoor het.

21. As jy byvoorbeeld ’n slaaf was toe die Here se pad joune gekruis het, moet jy jou nie vreeslik daaroor bekommer dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jy ’n kans kry om vry te word, doen dit.

22. As die Here jou roep as sy kind, is jy werklik vry, of jy nou in die gewone lewe ’n slaaf is of nie. Net so, as jy die Here se kind is, moet jy na Hom luister, of jy nou die belangrikste baas in die gewone lewe is of nie. Net soos iets wat jy gekoop het joune is, net so het die Here julle gekoop en boonop nog baie duur betaal ook.

23. Moet nou nie so lewe asof julle aan mense behoort en asof julle alles moet doen wat hulle sê nie.

24. My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle.

25. Julle het ook nog vrae gehad oor die jongmense wat nie getroud is nie. Ook hieroor het die Here nie spesifiek gesê wat ons moet doen nie. Ek gaan maar weer sê wat ek daaroor dink. My opinie is mos nie niks werd nie. Deur die goedheid van die Here kan julle julle maar steur aan wat ek sê.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7