Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 12:1-20 Die Boodskap (DB)

1. My liewe vriende, nou wil ek met julle praat oor die verskillende maniere waarop die Gees in ons werk. Dit is vir my baie belangrik dat julle dit mooi verstaan.

2. Julle onthou mos nog wat met julle gebeur het toe julle die Here nog nie geken het nie. Die afgode het die een of ander mag oor julle gehad wat julle na hulle toe getrek het. En dit is dooie beelde wat nie eens kan praat nie.

3. As julle nie seker is of iemand regtig onder die invloed van die Heilige Gees praat nie, wil ek julle ’n goeie toets daarvoor gee. Iemand wat deur die Gees praat, sal nie sê: “Vervloek is Jesus” nie. As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê.

4. Daar is natuurlik baie verskillende gawes wat ons as Christene kan kry, maar dit beteken nie dat daar ’n gees vir elke gawe is nie.

5. Al hierdie gawes kom van een en dieselfde Gees. Daar is ook baie dinge wat aan Christene gegee word om spesiaal te doen, maar dieselfde Here staan agter al hierdie verskillende dinge.

6. Daar gebeur ook baie spesiale dinge met ons as Christene. Dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons doen.

7. Die Gees werk in elkeen van ons op ’n unieke manier. Die doel daarvan is egter dat ons vir ander mense iets moet beteken. Daar is baie verskillende maniere waarop die Gees in ons kan werk, byvoorbeeld:

8. Party mense kan vir ’n mens goeie raad gee oor hoe om te leef. Ander kan weer goeie onderwysers vir die Here wees.

9. Dan is daar mense wat in moeilike omstandighede, as ander begin twyfel, steeds eenvoudig blindelings op die Here kan vertrou. Daar is ook sommige deur wie die Gees mense gesond kan maak.

10. Dan is daar nog mense wat dinge kan doen wat gewone mense glad nie kan doen nie. Die Gees sorg ook vir mense wat die boodskap van God duidelik en goed kan verkondig. Dan is daar ook mense wat weet wanneer die Gees van God deur iemand werk en praat en wanneer dit ’n valse gees is. Vir sommige gee die Gees die vermoë om ’n “spesiale taal” te praat terwyl ander die vermoë kry om te verduidelik wat daar met die “spesiale taal” gesê word.

11. Al hierdie dinge kom van een en dieselfde Gees. Hy besluit aan wie Hy wat wil gee en gee dit dan aan daardie persoon.

12. ’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam.

13. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal.

14. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie.

15. Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam.

16. Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie.

17. Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het?

18. Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het.

19. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie!

20. Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 12