Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 1:3-13 Die Boodskap (DB)

3. Mag God ons Vader en ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees. Mag Hulle julle innerlik rustig maak en vrede gee.

4. Ek sê altyd vir God dankie vir al die goeie dinge wat Hy so onverdiend vir julle gee. Ek praat van alles wat julle gekry het vandat julle Jesus Christus leer ken het. Hy het letterlik alles vir julle gegee wat julle nodig gehad het.

5. Julle het die dinge van God goed leer ken en kan maklik daaroor praat.

6. Dat dit wat ek vir julle oor Jesus vertel het, waar is, kan in julle lewe gesien word.

7. Ja-nee, julle het niks nodig nie, want God sorg dat julle kry wat julle op geestelike gebied nodig het. Julle sien ook opgewonde daarna uit dat ons Here Jesus Christus weer na ons toe kom sodat almal Hom kan sien. Niemand sal dan ’n enkele skewe woord teen julle kan sê nie. Hy sal julle nie in die steek laat nie.

8. Hy sal julle enduit gee wat julle moet hê.

9. Julle kan God vertrou, want Hy doen altyd wat Hy beloof. Hy self het julle uitgenooi om Jesus Christus, ons Here, se goeie vriende te word.

10. Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man saam.

11. Ek noem dit omdat van Chloë se familie hier by my aangekom en vertel het dat julle so onder mekaar baklei.

12. Laat ek dit so stel: een van julle sal sê: “Paulus is net die man.” Ander sal dan aan die stry gaan en sê dat Apollos of Petrus beter is. “Nee,” sal ander weer sê, “ons volg maar net vir Jesus.”

13. Nou vra ek: Is Christus dan so ’n los klomp stukke? Het ek, Paulus, miskien vir julle daar aan die kruis gehang? Is daar by julle doop miskien gesê dat julle gedoop word omdat Paulus so goed is?

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 1