Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 1:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Alles het by Hom begin. Voor alles was Hy al daar. Wat Jesus kom vertel het, het ons met ons eie ore by Hom gehoor. Ons het Hom met ons eie oë gesien. Ons het mooi dopgehou wat Hy gedoen het. Ons kon aan Hom vat en het ook inderdaad met ons hande aan Hom geraak. Wanneer ons dus oor Jesus praat, is ons seker waarvan ons praat.

2. Maar wie is hierdie Jesus van wie ons praat? Dit gaan oor die Een wat ons kom vertel het waar om die ewige lewe te kry. Hy self het die ewige lewe. Daarom kan ons Hom “Lewe” noem. Die “Lewe” het na ons toe gekom. Ons het Hom goed dopgehou. Wat ons gesien het, het ons oortuig dat Jesus nie alleen die ewige lewe het nie, maar dit ook vir ons kan en wil gee. Omdat niemand so naby die hemelse Vader staan as juis Hy nie, kan Hy dit doen.

3. Wat ons gesien en gehoor het, het ons so beïndruk dat ons julle eenvoudig daarvan moet vertel. Julle weet mos van die geestelike familie van die hemelse Vader en sy Seun, Jesus Christus. Ons behoort nou aan daardie familie. Ons wil so graag hê dat julle ook deel daarvan moet word.

4. As dít kan gebeur, sal ons baie bly wees. Daarom skryf ons aan julle.

5. Jesus het vir ons belangrike dinge kom sê. Ons het mooi na Hom geluister. Wat Hy vir ons gesê het, vertel ons nou weer vir julle. God kan vergelyk word met die lig wat skyn. Soos die lig die duisternis verdryf, so verdryf die teenwoordigheid van God die Bose heeltemal.

6. Hou dit nou in gedagte vir die volgende vraag: As ons rondvertel dat ons deel van God se intieme familie is, maar ons dade verklap die teenoorgestelde, wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars! Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker. So weerspieël ons mos nie die waarheid en egtheid wat eie aan ’n kind van God die Almagtige is nie.

7. Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag. Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie? vra jy dalk. Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was - daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 1