Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 9:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het met Sagaria gepraat.Die Here praat kwaai met die mense van die land Gadrak en die mense van die stad Damaskus. Die Here sien nie net wat die stamme van Israel doen nie, Hy sien wat al die mense doen.

2. Hy kyk ook na die land Hamat langs Damaskus, en na die stede Tirus en Sidon. Hy doen dit omdat daardie mense dink hulle is baie slim.

3. Die mense van Tirus het sterk mure om hulle stad gebou en hulle het baie ryk geword. Hulle het baie silwer en goud bymekaargemaak, so baie soos die stof en die modder in die strate.

4. Die Here sal nou al die goed vat wat die mense van die stad het. Hy sal die skepe van die stad Tirus verwoes.

5. Die mense van die stede Askelon en Gasa sal sien wat gebeur met Tirus. Hulle sal bang word en groot skrik. Die mense van die stad Ekron sal ook skrik, want hulle sal sien dat niks en niemand hulle kan help nie. Die stad Gasa sal nie meer ’n koning hê nie, en daar sal nie meer mense in Askelon woon nie.

6. In die stad Asdod sal nou ander mense woon. Die Here sê: “Ek sal alles wegvat wat die Filistyne hoogmoedig gemaak het.

7. Hulle sal nie meer ete-offers vol bloed vir hulle afgode bring nie. Die Filistyne wat nog lewe, sal ook aan ons God behoort. Hulle sal soos familie wees vir die mense van Juda. Dit sal met die mense van Ekron gaan soos met die Jebusiete, wat ook saam met die mense van Juda gewoon het.

8. Die Here sê Hy sal sy tempel beskerm. Daar sal nie meer ander volke in die stad Jerusalem kom nie, niemand sal die mense van Jerusalem verdruk nie, want die Here self sorg vir hulle.”

Lees volledige hoofstuk Sagaria 9