Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8:18-27 Bybel vir Almal (ABA)

18. Daarna het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Hoe het die mans gelyk wat julle in Tabor doodgemaak het?”Sebag en Salmunna sê toe: “Hulle het gelyk soos jy. Hulle het gelyk of hulle ’n koning se seuns is.”

19. Gideon het gesê: “Hulle was my eie broers. So seker soos die Here lewe, as julle hulle nie doodgemaak het nie, dan sou ek julle nie doodgemaak het nie.”

20. Hy sê toe vir sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood.” Maar die jongman het nie sy swaard uitgehaal nie. Hy was bang, want hy was nog jonk.

21. Sebag en Salmunna het gesê: “Gideon, jy self moet ons doodmaak, want jy is ’n man en jy is sterk.”Gideon het toe vir Sebag en Salmunna doodgemaak, en hy het die goue kettings om hulle kamele se nekke vir homself gevat.

22. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet nou oor ons regeer, jy en jou nageslag ná jou, want jy het ons gered van die Midianiete.”

23. Maar Gideon het vir hulle gesê: “Ek sal nie oor julle regeer nie, en my seun sal ook nie oor julle regeer nie. Die Here sal oor julle regeer.

24. Maar ek wil vir julle iets vra: Julle moet elkeen vir my ’n oor-ring gee van die goed wat julle van die vyande gevat het.”Die vyande was Ismaeliete en hulle het oor-ringe gedra.

25. Die Israeliete het gesê: “Goed, ons sal gee wat jy vra.”Hulle het toe ’n bo-kleed oopgegooi en elkeen het daarop ’n oor-ring gegooi van die goed wat hulle van die vyand gevat het.

26. Die goue oor-ringe wat Gideon gekry het, het 1 700 sikkels geweeg. Hy het ook die juwele en die mooi klere van die konings van Midian gekry, en die kettings wat om hulle kamele se nekke was.

27. Gideon het die goud geneem en hy het ’n beeld daarvan laat maak, en hy het die beeld in sy stad Ofra neergesit. Al die Israeliete het ontrou geword aan die Here en die beeld begin aanbid. Gideon en sy familie het dit ook gedoen.

Lees volledige hoofstuk Rigters 8