Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die mense van die Efraim-stam vra toe vir Gideon: “Hoekom het jy dit met ons gedoen? Hoekom het jy ons nie geroep toe jy gegaan het om teen die Midianiete oorlog te maak nie?”Hulle was baie kwaad vir Gideon.

2. Maar hy het vir hulle gesê: “Julle het baie meer gedoen as ek. Die mense van die Efraim-stam het later gekom maar hulle het meer gedoen as die familie Abiëser.

3. God het julle gehelp om te wen teen Kraai en Wolf, die generaals van Midian. Julle het baie meer gedoen as wat ek kon doen.”Toe Gideon dit vir die mense van die Efraim-stam sê, was hulle nie meer kwaad nie.

4. Gideon het by die Jordaan-rivier aangekom, en hy en die 300 manne het deur die rivier gegaan. Hulle was baie moeg, maar hulle wou die Midianiete nog volg en jaag.

5. Gideon vra toe vir die mense van die stad Sukkot: “Gee asseblief brood vir die manne wat by my is. Hulle is baie moeg, en ek is nog besig om vir Sebag en Salmunna, die konings van die Midianiete, te volg en te jaag.”

6. Maar die leiers in die stad Sukkot het vir Gideon gesê: “Jy maak of jy al klaar gewen het teen Sebag en Salmunna. Hoekom moet ons vir jou manne brood gee?”

7. Gideon het geantwoord: “Die Here sal my laat wen teen Sebag en Salmunna, en dan sal ek terugkom. Ek sal julle doodmaak en julle vleis stukkend skeur met woestyndorings.”

8. Gideon het van Sukkot na die stad Pniël gegaan en hy het vir hulle ook brood gevra, maar die mense van Pniël het hom soos die mense van Sukkot geantwoord.

9. Hy het vir die mense van Pniël gesê: “Ek sal terugkom en nog lewe, en dan sal ek hierdie toring afbreek.”

10. Sebag en Salmunna was by die stad Karkor, en daar was omtrent 15 000 manne by hulle. Net hierdie manne het oorgebly van al die Oosmense. Daar het toe al 120 000 van hulle manne in die oorlog gesterf.

11. Gideon het met die Nomade-pad gegaan oos van die stede Nobag en Jogboha, en hy het die kamp van Sebag en Salmunna aangeval toe hulle dit nie verwag het nie.

12. Sebag en Salmunna het gevlug, maar Gideon het hulle gejaag en gevang. Al die ander mense in hulle kamp het so geskrik dat hulle niks kon doen nie.

13. Gideon het van die oorlog teruggekom oor die Geres-pas.

14. Hy het ’n seun van die Sukkot-mense gevang en hy het vir die seun gevra wie die amptenare en leiers van die stad is. Die seun het vir Gideon die name opgeskryf van 77 amptenare en leiers van die stad.

15. Toe het Gideon by die Sukkot-mense gekom en hy het vir hulle gesê: “Julle het my gespot en gesê: ‘Jy maak of jy al klaar gewen het teen Sebag en Salmunna. Hoekom moet ons vir jou manne brood gee?’ Hier is Sebag en Salmunna nou.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 8