Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:11-24 Bybel vir Almal (ABA)

11. Die Engel van die Here het gekom en het gaan sit onder die groot boom by die stad Ofra. Die plek het behoort aan Joas, ’n man uit die familie Abiëser. Joas se seun Gideon was besig om koring uit te slaan binne-in ’n parskuip. Hy het dit daar gedoen sodat die Midianiete dit nie kon sien nie.

12. Die Engel van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy is ’n man wat kan oorlog maak, en die Here is by jou.”

13. Gideon het vir die Engel van die Here gesê: “Asseblief, Meneer, as die Here by ons is, sê vir my hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al sy wonderwerke? Ons voorvaders het ons daarvan vertel. Hulle het altyd gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gebring.’ Maar nou het die Here ons gelos. Hy het die Midianiete gestuur om ons te verdruk.”

14. Die Here het na Gideon gekyk en vir hom gesê: “Jy is sterk. Jy moet die Israeliete gaan red van die Midianiete. Ek stuur jou om dit te doen.”

15. Toe sê Gideon vir Hom: “Asseblief, Here, ek kan nie die Israeliete red nie. My familie is die kleinste familie in die Manasse-stam, en ek is die jongste seun in my pa se huisgesin.”

16. Die Here het vir Gideon gesê: “Jy sal dit doen omdat Ek by jou sal wees. Jy sal die Midianiete oorwin. Dit sal so maklik wees soos wanneer jy teen een man veg.”

17. Toe sê Gideon vir Hom: “As U goed wil wees vir my, doen dan vir my ’n wonderwerk wat wys dat U met my gepraat het.

18. Asseblief, moenie hier weggaan nie, ek wil eers na U toe kom en my present bring en voor U neersit.”Die Here het gesê: “Ek sal wag totdat jy kom.”

19. Gideon het ’n bok-lam en ’n efa meel gaan haal en die vleis gekook en brood gebak. Daar was nie suurdeeg in die meel nie. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in die pot gehou en dit na die Here gebring onder die boom. Toe hy dit nader bring,

20. het die Engel van God vir hom gesê: “Sit die vleis en die brood daar op die rots en gooi die sous daaroor.”Gideon het dit gedoen.

21. Toe steek die Engel van die Here sy kierie uit en raak met die punt van die kierie aan die vleis en die brood. Daar het vuur uit die rots gekom en dit het die vleis en die brood verbrand. Toe het Gideon nie meer die Engel van die Here gesien nie.

22. Gideon het besef dit is die Engel van die Here, en hy het gesê: “Ag, Here, my Here, ek sal sterf, want ek het regtig die Engel van die Here gesien, Hy was hier voor my.”

23. Maar die Here het vir hom gesê: “Moenie bekommerd wees nie, moenie bang wees nie, jy sal nie sterf nie.”

24. Gideon het daar ’n altaar gebou vir die Here. Hy het die altaar genoem: “Die Here het gesê ek moenie bekommerd wees nie.” Daardie altaar is nog in Ofra, die familie Abiëser woon daar.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6