Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:3-17 Bybel vir Almal (ABA)

3. die mense in die vyf Filistynse stede, en al die Kanaäniete en Sidoniërs, en die Hewiete wat op die Libanon-berg gewoon het, van Baäl-Hermonberg tot by Lebo-Hamat.

4. Die Here wou die Israeliete toets. Hy wou sien of hulle gehoorsaam sal wees aan sy gebooie. Hy het voorheen vir Moses gestuur om die gebooie vir hulle voorvaders te gee.

5. Die Israeliete het gewoon tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

6. Die Israeliete het getrou met vroue en mans van daardie mense, en die Israeliete het daardie mense se gode gedien.

7. Die Israeliete het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het hulle God die Here vergeet en hulle het die Baäls en Asjeras gedien.

8. Die Here het baie kwaad geword vir die Israeliete. Hy het Kusan-Risatajim gehelp om ’n oorlog te wen teen die Israeliete. Kusan-Risatajim was die koning van die Arameërs wat tussen die Eufraat-rivier en die Tigris-rivier gewoon het. Die Israeliete het Kusan-Risatajim ag jaar lank gedien.

9. Hulle het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het toe vir die Israeliete ’n redder gestuur om hulle te red. Die redder was Otniël. Hy was die seun van Kaleb se jongste broer Kenas.

10. Die Gees van die Here het in Otniël gekom. Hy het die leier van die Israeliete geword, en hy het teen Kusan-Risatajim oorlog gemaak en hom oorwin. Die Here het vir Otniël gehelp om dit te doen.

11. Daar was 40 jaar lank vrede in die land. Daarna het Otniël seun van Kenas gesterf.

12. Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Daarom het die Here vir Eglon, die koning van die Moabiete, sterker laat word as die Israeliete.

13. Eglon het die Ammoniete en Amalekiete saam met hom gebring, en hy het die stad Jerigo oorwin, die stad waar baie palmbome gegroei het.

14. Die Israeliete het koning Eglon van Moab 18 jaar lank gedien.

15. Hulle het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het toe vir die Israeliete ’n redder gestuur om hulle te red. Die redder was Ehud. Hy was die seun van Gera, ’n Benjamin-man.Ehud was links. Die Israeliete het hom gestuur om die belasting vir koning Eglon van Moab te bring.

16. Ehud het toe vir homself ’n swaard gemaak, die swaard se lem was altwee kante skerp. Dit was ’n kort swaard. Ehud het die swaard op sy regter-heup aan sy belt vasgemaak onder sy klere.

17. Toe het Ehud die belasting vir koning Eglon van Moab gebring. Eglon was baie vet.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3