Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:20-31 Bybel vir Almal (ABA)

20. Die Juda-stam het die stad Hebron vir Kaleb gegee. Kaleb het drie Enak-mense oorwin en weggejaag uit Hebron.

21. Die Benjamin-stam het nie die Jebusiete oorwin en weggejaag nie, die Jebusiete wat in Jerusalem gewoon het. Die Jebusiete woon tot vandag toe saam met die Benjamin-mense in Jerusalem.

22. Die nageslag van Josef het ook teen die Kanaäniete gaan oorlog maak, en die Here het hulle gehelp.

23. Hulle het mense gestuur om te kyk hoe hulle in die stad Bet-El kan inkom. Bet-El se naam was voorheen Lus.

24. Die spioene het ’n man uit die stad sien kom, en hulle het vir hom gesê: “As jy vir ons wys hoe ons in die stad kan inkom, dan sal ons goed wees vir jou.”

25. Die man het vir hulle gewys hoe om in die stad in te kom. Die nageslag van Josef het toe die stad oorwin en hulle het die mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het die man laat gaan wat vir hulle gehelp het, die man en sy hele familie.

26. Die man het na Hetiete-land gegaan en hy het daar ’n stad gebou. Hy het die stad ook Lus genoem, dit is vandag nog die naam van die stad.

27. Die Manasse-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo en in die klein dorpies rondom hulle nie. Die Kanaäniete wou nie weggaan uit die stede nie.

28. Toe die Israeliete ’n sterk volk geword het, het hulle die Kanaäniete swaar laat werk, maar hulle het nooit die Kanaäniete heeltemal weggejaag nie.

29. Die Efraim-stam het ook nie die Kanaäniete oorwin en weggejaag wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om in Geser te woon tussen die mense van Efraim.

30. Die Sebulon-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat in Kitron en Nahalal gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om tussen die Sebulon-mense te woon, maar die Sebulon-mense het die Kanaäniete swaar laat werk.

31. Die Aser-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1