Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:2-17 Bybel vir Almal (ABA)

2. Die Here het gesê: “Die Juda-stam moet eerste gaan. Ek sal hulle help om die land te oorwin.”

3. Die mense van die Juda-stam het toe vir die mense van die Simeon-stam gesê: “Kom maak saam met ons oorlog teen die Kanaäniete, dan sal ons later saam met julle gaan en julle help wanneer julle moet gaan oorlog maak.” Simeon was Juda se broer.Die Simeon-stam het toe saam met die Juda-stam gegaan.

4. Die Here het hulle gehelp om die Kanaäniete en Feresiete te oorwin. Hulle het in die stad Besek 10 000 soldate doodgemaak.

5. Daar in Besek het hulle vir Adoni-Besek gekry en hulle het oorlog gemaak teen sy mense. Hulle het die Kanaäniete en Feresiete oorwin.

6. Adoni-Besek het gevlug, maar die mense van Juda en Simeon het hom gevolg en hulle het hom gevang. Hulle het sy duime en sy groot-tone afgesny.

7. Adoni-Besek het gesê: “God het my nou gestraf oor wat ek gedoen het, want ek het 70 konings se duime en groot-tone afgesny, en hulle moes onder my tafel die krummels eet wat afgeval het.”Die mense van Juda en Simeon het vir Adoni-Besek na Jerusalem gebring, en hy het daar gesterf.

8. Die mense van Juda het oorlog gemaak teen die mense van Jerusalem en hulle het die stad oorwin. Hulle het die mense doodgemaak wat daar gewoon het. Toe het hulle die stad afgebrand.

9. Daarna het die mense van Juda oorlog gemaak teen die Kanaäniete wat gewoon het op die berge en in die Suid-land en die Laeveld.

10. Hulle het ook gaan oorlog maak teen die Kanaäniete wat in die stad Hebron gewoon het. Hebron se naam was voorheen Kirjat-Arba. Daar het hulle vir Sesai, Agiman en Talmai oorwin.

11. Toe het die mense van Juda gaan oorlog maak teen die mense wat in die stad Debir gewoon het. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer.

12. Kaleb het vir sy soldate gesê: “Die man wat die stad Kirjat-Sefer oorwin en vir ons vat, hy kan met my dogter Aksa trou.”

13. Otniël het die stad oorwin. Hy was die seun van Kaleb se jonger broer Kenas. Kaleb het toe sy dogter Aksa vir Otniël gegee.

14. Die dag toe Aksa met Otniël trou, het sy vir Otniël gesê hy moet vir haar pa ’n stuk grond vra. Maar voordat sy op haar donkie weggery het, het sy self vir Kaleb gewys sy wil vir hom iets vra. Toe Kaleb vir haar vra wat sy wil hê,

15. het sy vir hom gesê: “Pa het vir my die Suid-land gegee. Maar gee nou vir my ook putte, sodat dit goed kan gaan met my.”Kaleb het vir haar die Boonste Put en die Onderste Put gegee.

16. Die Keniete was die nageslag van Moses se skoonpa. Hulle het van die stad Jerigo gekom, die stad waar baie palmbome gegroei het, en hulle het saam met die mense van Juda in die woestyn van Juda gaan woon, in die Suid-land rondom die stad Arad.

17. Die stam van Juda het saam met die stam van sy broer Simeon gegaan, en hulle het die Kanaäniete oorwin wat in die stad Sefat gewoon het. Hulle het al die mense en diere in die stad doodgemaak en hulle het die stad Gorma genoem.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1