Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 9:9-18 Bybel vir Almal (ABA)

9. Jy moet die lewe geniet saam met die vrou vir wie jy lief is. Jy moet elke dag van jou lewe geniet, elke dag wanneer niks is soos dit moet wees nie. Dit is God wat vir jou elke dag gee, elke dag wanneer niks is soos dit moet wees nie, want dít is wat jy kry terwyl jy lewe en hard werk in hierdie wêreld.

10. Jy moet alles doen wat jy kan doen, jy moet dit goed doen, want jy gaan na die doderyk en daar sal jy nie werk of dink of weet of wysheid hê nie.

11. Ek het nog iets gesien in hierdie wêreld:Jy kan miskien vinnig hardloop,maar jy wen nie die resies nie,jy is miskien ’n goeie soldaat,maar jy wen nie die oorlog nie,jy het miskien wysheid,maar jy het niks kos nie,jy is miskien verstandig,maar jy word nie ryk nie,jy weet miskien baie dinge,maar niemand hou van jou nie.Die dinge wat met jou moet gebeur, sal gebeur wanneer dit die regte tyd is.

12. ’n Mens weet self nie wanneer dit tyd is dat hy moet sterf nie. Dit sal miskien skielik sleg gaan met hom, soos wanneer ’n vis skielik in ’n visnet kom of wanneer ’n voël in ’n vangnet vassit.

13. Ek het ook dít gesien: Daar is wysheid in hierdie wêreld, en dit is vir my baie belangrik.

14. Daar was ’n klein stadjie, min mense het daar gewoon. ’n Groot koning het die stad van al die kante aangeval. Hy het probeer om die stad se mure af te breek.

15. Daar was ’n arm man in die stad, die man het wysheid gehad. Hy het sy wysheid gebruik om die stad te red. Maar niemand het daardie arm man onthou nie.

16. Ek het toe gesê: Dit is beter om wysheid te hê as om sterk te wees. Maar mense dink ’n arm mens se wysheid is nie belangrik nie, en hulle luister nie wanneer hy praat nie.

17. Dit is beter om te luister wanneer wyse mense kalm praat, beter as om te luister wanneer ’n persoon wat regeer, vir dwase skree.

18. Wysheid is beter as oorlog-wapens, maar een sondaar verwoes baie goeie dinge.

Lees volledige hoofstuk Prediker 9