hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ja, ek het oor al hierdie dinge gedink en ek het gesien dat dit God is wat besluit oor mense wat reg lewe, Hy besluit oor wyse mense en oor die dinge wat hulle doen. Mense weet nie wat met hulle sal gebeur nie, hulle weet ook nie of God vir hulle liefde of haat sal stuur nie.

2. Dieselfde dinge gebeur met almal, dit gebeur met mense wat reg doen en met mense wat verkeerd doen, met mense wat goed is, met mense wat rein is en met mense wat onrein is, met mense wat offer en met mense wat nie offer nie, met mense wat goeie dinge doen en met mense wat sonde doen, met mense wat vir God iets belowe en met mense wat bang is om vir God iets te belowe.

3. Daar is iets verkeerd wat in hierdie wêreld gebeur: Dit is verkeerd dat dieselfde dinge met almal gebeur. Mense dink slegte dinge en hulle is dwase hulle hele lewe lank, en daarna sterf hulle.

4. Terwyl ’n mens lewe, kan hy hoop dat dit beter sal gaan met hom, want ’n hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is.

5. Ja, mense wat lewe, weet dat hulle sal sterf, maar mense wat dood is, weet niks. Hulle kry nie ’n beloning nie, want niemand dink nog aan hulle nie.

6. Hulle was miskien lief vir mense of hulle het mense gehaat, of hulle was kwaad en ontsteld, maar wanneer hulle sterf, dan is dit alles verby. Hulle sal nooit weer saam met ander mense die dinge doen wat in hierdie wêreld gebeur nie.

7. Maar jy, gaan eet jou kos, gaan drink jou wyn en geniet dit. God is tevrede met wat jy doen.

8. Jy moet altyd wit klere dra, en jy moet lekkerruik-olie op jou kop smeer.

9. Jy moet die lewe geniet saam met die vrou vir wie jy lief is. Jy moet elke dag van jou lewe geniet, elke dag wanneer niks is soos dit moet wees nie. Dit is God wat vir jou elke dag gee, elke dag wanneer niks is soos dit moet wees nie, want dít is wat jy kry terwyl jy lewe en hard werk in hierdie wêreld.

10. Jy moet alles doen wat jy kan doen, jy moet dit goed doen, want jy gaan na die doderyk en daar sal jy nie werk of dink of weet of wysheid hê nie.

’n Mens weet self nie wanneer dit tyd is dat hy moet sterf nie

11. Ek het nog iets gesien in hierdie wêreld:Jy kan miskien vinnig hardloop,maar jy wen nie die resies nie,jy is miskien ’n goeie soldaat,maar jy wen nie die oorlog nie,jy het miskien wysheid,maar jy het niks kos nie,jy is miskien verstandig,maar jy word nie ryk nie,jy weet miskien baie dinge,maar niemand hou van jou nie.Die dinge wat met jou moet gebeur, sal gebeur wanneer dit die regte tyd is.

12. ’n Mens weet self nie wanneer dit tyd is dat hy moet sterf nie. Dit sal miskien skielik sleg gaan met hom, soos wanneer ’n vis skielik in ’n visnet kom of wanneer ’n voël in ’n vangnet vassit.

Dit is beter om wysheid te hê as om sterk te wees

13. Ek het ook dít gesien: Daar is wysheid in hierdie wêreld, en dit is vir my baie belangrik.

14. Daar was ’n klein stadjie, min mense het daar gewoon. ’n Groot koning het die stad van al die kante aangeval. Hy het probeer om die stad se mure af te breek.

15. Daar was ’n arm man in die stad, die man het wysheid gehad. Hy het sy wysheid gebruik om die stad te red. Maar niemand het daardie arm man onthou nie.

16. Ek het toe gesê: Dit is beter om wysheid te hê as om sterk te wees. Maar mense dink ’n arm mens se wysheid is nie belangrik nie, en hulle luister nie wanneer hy praat nie.

17. Dit is beter om te luister wanneer wyse mense kalm praat, beter as om te luister wanneer ’n persoon wat regeer, vir dwase skree.

18. Wysheid is beter as oorlog-wapens, maar een sondaar verwoes baie goeie dinge.