Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 8:8-20 Bybel vir Almal (ABA)

8. Dan moet hulle ’n jong bul neem saam met die koring-offer van die beste meel wat hulle met olyf-olie meng, en jy moet nog ’n jong bul neem om ’n sonde-offer te wees.

9. Jy moet die Leviete laat nader kom voor die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, en jy moet die hele volksvergadering van die Israeliete laat bymekaarkom.

10. Wanneer jy die Leviete laat nader kom voor My, dan moet die Israeliete hulle hande op die Leviete sit,

11. en Aäron moet die Leviete heen en weer laat beweeg voor My om ’n beweeg-offer te wees, sodat hulle die werk vir My kan doen.

12. Die Leviete moet dan hulle hande sit op die koppe van die bulle, en Aäron moet die bulle vir My offer, die een bul is ’n sonde-offer en die ander bul is ’n brand-offer. Hierdie offers is om versoening te doen vir die Leviete.

13. Jy moet vir die Leviete sê hulle moet vir Aäron en sy seuns werk, en jy moet hulle heen en weer laat beweeg om ’n beweeg-offer vir My te wees.

14. So moet jy die Leviete wegneem van die ander Israeliete, die Leviete moet aan My behoort.

15. Wanneer jy die Leviete gereinig het en hulle heen en weer laat beweeg het om ’n beweeg-offer te wees, dan mag hulle gaan werk in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn,

16. want die Leviete behoort aan My, die Israeliete het hulle vir My gegee in die plek van al die eerste seuns van die Israeliete. Ek het die Leviete vir My geneem.

17. Al die eerste seuns en eerste kalwers en lammers en vulletjies van die Israeliete is Myne. Ek het hulle aan My gewy toe Ek die eerste seuns en die eerste kalwers en lammers en vulletjies van die Egiptenaars laat sterf het.

18. Maar Ek het die Leviete geneem in die plek van al die eerste seuns van die Israeliete,

19. en Ek het die Leviete weggeneem van die Israeliete. Ek het hulle vir Aäron en sy seuns gegee om te werk in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. Ek het die Leviete gegee om versoening te doen vir die Israeliete, want as die Israeliete self te naby aan die tempel-tent kom, dan sal hulle sterf.”

20. Moses en Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete het toe met die Leviete alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het.

Lees volledige hoofstuk Numeri 8